Reik Uit
Diakonale Projekte
Deur u, as gemeente se bydrae tot die diakonie, vanuit die kollektes o.a, sterk u die diakonie se hande, in hul opdrag tot versorging en ondersteuning van nie alleen die gemeente nie, maar ook van die gemeenskap.
Die diakonie is in die eerste plek verantwoordelik vir die gemeente se versorging en ondersteuning, waar daar enige nood of behoefte sou ontstaan. Waar daar wel hulp aangebied was, kan ons in opregtheid getuig van die groot dankbaarheid waarmee die hulpverlening ontvang was.
Diakonie is ook verantwoordelik vir liefdesdiens binne en buite die gemeente se grense en in die verband word twee instansies jaarliks ondersteun.
Sean Kelly
‘n Instansie wat omsien na meervoudige-gestremde kinders.
Diakonale hulpverlening: Die diakonie skenk ‘n jaarlikse bedrag, wat aangewend word om vleis aan te koop, wat dan maandeliks aan hulle geskenk word. Die instansie voorsien nie alleen voedsel aan die gestremdes wat inwonend is nie, maar ook aan die skooltjie, wat deur die meervoudige-gestremdes, bygewoon word. Skenkings van klere, handdoeke, linneware ensovoorts, wat deur die diakonie ontvang word, word ook aan die instansie deurgegee.
De la Bat Skool
Skool vir die gehoorgestremdes, en naskoolse versorging van gehoorgestremde volwassenes.
Oudiologie: Dit is die skool se projek om aan minderbevoorregte dowes, gehoorapparate te voorsien.
Voedselprojek: ‘n Groot persentasie van die skool se kinders kan nie die nodige skoolfonds betaal nie, en dit noodsaak die skool om ondersteuning te kry vir die voeding van die skoolkinders.
Liefdesdiens na binne en buite
As diakonie, wil ons u verseker van ons volgehoue toewyding aan hierdie groot opdrag en wil ook ‘n uitnodiging rig, dat waar u weet van spesiale behoeftes, u dit onder die diakonie se aandag sal bring, en ons daarin die ruimte sal gee om ook ons opdrag tot waardige vervulling te bring.
Lukas 10: 27
Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”
Huiswerkers – Robertson
Een maal per maand hanteer die predikant saam met ‘n suster van Robertson die evangelisasie geleentheid vir huiswerkers op Robertson vanuit een van ons lidmate se spreekkamer.
Hierdie groep kom al vir meer as 9 jaar maandeliks bymekaar en wissel van so 6 – 12 susters, waar ons dan vir om en by `n uur en half saam gesels oor God se Woord. Ons het aanvanklik die Heidelbergse Kategismus in vereenvoudigde vorm hanteer en die afgelope jare is ons besig met Bybelstudies oor sake wat kommer en vrae veroorsaak by hierdie susters.
Hierdie susters is baie toegewyd en waardeer die uitreik en bediening na hulle verskriklik baie en ervaar die liefde van Christus in die gemeente se optrede.
Andries Hamman ACVV Ouetehuis
Die predikant hanteer een maal per maand aandoordenkings (sang, skriflesing en gebed) by die ouetehuis.
Wanneer die predikant daar kom, het die inwoners al by Totius se Psalms oopgemaak en hulle hou baie daarvan om dit te sing. Dit is ‘n hoogtepunt vir ons, maar so ook vir die inwoners wanneer ons tyd saam met mekaar, God en sy Woord kan deurbring.
Ons katkisante reik ook een maal per jaar uit na hierdie ouetehuis waar hulle dan lekkernye, vetplantjies of blomme aan die inwoners uitdeel.
Romeine 13: 9 – 10
Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.
Huis Josef Matwa – Ouetehuis
Hierdie ouetehuis is geleë in Nkqubela woonbuurt by Robertson. Hier word bejaardes en verswakte bejaardes versorg.
Ons as gemeente reik deur die predikant en ‘n paar lidmate van Robertson uit na hierdie ouetehuis en bedien dan daar die Woord van God, maar ook die liefde van God aan die bejaardes.
Ons gemeente vind ook maandeliks uit wat is die tekorte by die ouetehuis en spreek dan die tekorte aan deur skenkings vanuit die gemeente. Die personeel en inwoners is baie dankbaar vir die hulp en ondersteuning.
Ander uitreike
Die predikant is ook betrokke met die verkondiging van die evangelie by `n nuwe outehuis op De la Bat se gronde.
Diakens is ook betrokke in die gemeenskap met liefdes- en barmhartigheidswerk, deur hulle betrokkenheid by die blinde lidmate en die Instituut vir Blindes.
Die kategete, ouers en katkisante vind groot vreugde daarin om die kinders van Saamstaan Koshuis (De la Bat) gereeld te besoek en skenkings vanuit die gemeente aan hulle te gee.