Diakens

Diakens in ons gemeente is verantwoordelik vir die liefdesgawes en versorging van die gemeenskap van gelowiges. Ons streef daarna om ‘n diaken vir elke wyk te hê. Die prioriteit van ‘n diaken is om die gemeente as gemeenskap van gelowiges saam te laat lewe. Vir hierdie doel moet hulle bewus wees van elke lidmaat se fisiese en geestelike welstand, huislike omstandighede en gereed wees om hulp te verleen wanneer nodig.

Verder doen die diakens werk vir die Gereformeerde Kerk se kinderhuise, huise vir bejaardes en dra hulle ook finansieel by vir spesiale projekte waar nood bestaan binne Gereformeerde Kerkverband.

Die diakonie vergader gereeld om hierdie verantwoordelikhede te bespreek en besluite te neem tot verligting van nood op die verskillende terreine.

Verantwoordelikhede

Hulle word geroep om seker te maak dat die gemeente hulle eenheid in Christus met daadwerklike liefde onderling beoefen.

Hulle moet toesien dat gelowiges aan almal goed doen, sodat die liefde van Christus openbaar kan word.

Hulle moet die lidmate besoek en sorg dra dat nie een deur armoede, eensaamheid, ouderdom of siekte of om ander redes van die gemeente vervreem raak nie.

Hulle moet die middele, geld en kos, wat vir die diakendiens gegee word vir hulle wat in nood verkeer, sorgvuldig beheer en met wysheid bestee met troos vanuit die Skrif uitdeel.

Hulle moet Christus, hulle medegelowiges en alle mense so dien en hulle gemeente tot diens toerus, sodat die liefde van Christus in die wêreld kan skitter.

Hulle moet ook die afvalliges en heidene tot bekering en geloof in Jesus Christus roep.

1 Timoteus 3:8-13
Die diakens van die gemeente
(8) Net so moet diakens ook manne van goeie karakter wees. Hulle moenie uit twee monde praat nie en nie aan drank verslaaf of op oneerlike winsbejag uit wees nie.
(9) Hulle moet in alle opregtheid aan die geopenbaarde waarheid van die geloof vashou.
(10) Vooraf moet ondersoek ingestel word na hulle geskiktheid, en as niemand beswaar teen hulle inbring nie, kan hulle as diakens dien.
(11) Net so moet vroue ook van goeie karakter wees, nie skinder nie, nugter en in alles betroubaar.
(12) ‘n Diaken moet aan sy vrou getrou wees en sy kinders en sy eie huisgesin goed beheer.
(13) Dié wat as diaken goed gedien het, verwerf vir hulleself ‘n eervolle plek in die gemeente en groot vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus.